Liewe Leser

Brief 6

Gisteraand sit ek met ’n koppie boeretroos in die hand en kyk uit oor die stad se blinkertjieskombers. Persoonlik verkies ek die sterre bo kunsmatige lig. Die beurtkrag maak egter dat die stad se liggies net so skaars geword het, daarom waardeer ek die liggies ’n bietjie meer as wat ek moet. 

Die allesoorheersende stilte gee my kans om weg te breek van die lewe se geraas. Opeens begin ek my denkbeeldige hande in ons gemeenskap soek. Soms is dit maklik om jou naastes uit te help en skroom jy nie om die ekstra myl te loop wanneer jou mense vir jou hulp vra nie. Ironies genoeg is dit vir my baie moeiliker om vir hulp te vra as om hulp aan te bied. Miskien is dit trots en my vrees vir afhanklikheid wat praat. Miskien kan jy jouself hiermee vereenselwig, liewe Leser.

My gedagtes vat my verder. Hoe help jy iemand as jou eie hande afgekap is? En hoeveel mense gaan jou help wanneer die lewe jou geklap het? Dit val my toe by dat daar altyd onsekerhede in die toekoms sal lê en dat sekere dinge altyd buite ons beheer sal wees, daarom fokus ons op die teenwoordige tyd, help ons mekaar en klou ons vas aan ons geloof– ongeag wat die toekoms vir ons mag inhou. 

Maartmaand is Maatskaplikewerkersmaand. Helpende Hand vier dit met die tema “wil om te help”. Die woordjie “wil” staan vir my uit. 

Ek vat ’n slukkie van die bitter water en haal my slimfoon uit. Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) word die woord “wil” as ’n hulpwerkwoord gebruik. Interessant genoeg het ons die sleutelwoorde “hulp” en “werk” nodig om “hulpwerkwoord” te bou. Dit sê vir my as jy wil help, is jy ook bereid om aan iets te werk. Jy wil help, want jy het ’n behoefte om ’n verskil in jou gemeenskap te maak. 

Beurtkrag tree in en die slimfoon se battery is ook daarmee heen. Om my is dit stikdonker. Met ’n laaste slukkie sluk ek my trots en reik ek my hand uit met die hoop dat iemand my oë sal wees. 

Hilde
Helpende Hand