Dissipline in die huis: Pa en Ma werk saam

Laat jou gesin floreer op liefdevolle dissipline en konsekwentheid deurdat beide ouers dieselfde reëls toepas en saamwerk.

In die moderne gesin is dit belangrik dat ouers saamwerk om liefdevolle dissipline toe te pas. Navorsing toon dat kinders floreer as daar duidelike grense, warmte en eensgesindheid is. Ferm liefde – ‘n kombinasie van dissipline en liefde – het ‘n groter impak op kinders se sukses as faktore soos inkomste. Kinders wat in so ‘n omgewing grootword, ontwikkel noodsaaklike lewensvaardighede soos empatie, deursettingsvermoë en selfbeheersing – eienskappe wat hulle deur die lewe sal dra.

Dit is belangrik dat ma en pa konsekwent en regverdig optree en dieselfde huisreëls en waardes toepas. Wanneer ouers nie met mekaar saamstem nie, kan dit tot verwarring en manipulasie lei.

Die volgende wenke kan help om dissipline as ‘n span toe te pas:

  1. Skep duidelike, eenvoudige huisreëls.
  2. Stel reëls op wat by julle gesin pas. Vermy ‘n lang lys en fokus eerder op kernwaardes soos respek, netheid en eerlikheid.
  3. Wees konsekwent en regverdig.

Kinders floreer wanneer hulle duidelike grense het. As jy “nee” sê, moet dit “nee” bly. Moenie reëls in sekere situasies verbreek nie; dit verwar kinders, want hulle kan nie verstaan waarom sekere gedrag soms toelaatbaar is en ander kere nie. Wanneer ma “nee” sê, moet Pa haar ondersteun en nie “ja” sê wanneer ma die vertrek verlaat nie!

Moenie omkopery gebruik om dissipline te handhaaf nie. Leer jou kind dat goeie gedrag in waardes gewortel is en dat dit tot natuurlike belonings lei, soos vertroue, verantwoordelikheid, vryheid en sekere voorregte. Ouers moet konsekwent wees met die toepassing van dissipline en nie mekaar se gesag ondermyn nie.

Wanneer een ouer vir ‘n kind sê: “Moenie vir Mamma/Pappa sê nie,” gee dit gemengde boodskappe en leer dit jou kind dat dit aanvaarbaar is om die reëls te buig, solank dit net geheim gehou word. Sulke optrede kan tot onnodige konflik in die gesin lei. Dissipline werk die doeltreffendste wanneer die ouers as ‘n eenheid optree, duidelik kommunikeer en dieselfde standaarde en waardes handhaaf.

Dissiplineer jou kinders met liefde en verduidelik waarom sekere gedrag onaanvaarbaar is. Dissipline moet altyd met liefde toegepas word, nie uit woede of vrees nie. Verduidelik rustig hoekom sekere gedrag onaanvaarbaar is en fokus op die gedrag, nie op die kind as persoon nie. Kinders kan leer dat hul dade gevolge het sonder dat hulle voel hulle is ‘n mislukking.

As jou kind jou byvoorbeeld in die rede val, kan jy sê: “Ek weet jy wil iets sê en ons wil graag luister, maar jy het my nou in die rede geval. Hoe sou jy voel as jy ‘n storie vertel en iemand stop jou sommer in die middel daarvan? Dis nie lekker nie, nè? Daarom wag ons vir ons beurt om te praat.”

Kommunikeer met mekaar én met die kinders. Gesels gereeld as ouers met mekaar oor wat werk en nie werk nie. Dit is ook belangrik om oop en eerlike kommunikasie met jou kinders te hê. Praat met hulle oor die huisreëls en die gevolge van hul aksies op ‘n geleentheid wanneer almal ontspanne is. Moedig jou kinders aan om hul gevoelens en gedagtes te deel, sodat hulle weet hulle word gehoor en verstaan. Dit bou nie net respek vir die reëls nie, maar ook ‘n gesonde verhouding van vertroue in die gesin.

Wees self die voorbeeld. Wat jy doen, spreek harder as wat jy sê. Kinders leer eerlikheid, geduld en respek deur jou voorbeeld. Jou gedrag moet die voorbeeld wees van wat jy van hulle verwag.

Wanneer pa en ma saamwerk, skep dit nie net dissipline nie, maar ook ‘n fondasie van stabiliteit, vertroue en gesonde verhoudings.

Isabel Faurie

Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand