Liewe Leser

Ek het Afrikaans van kleins af geken. Sy het my skool toe, dans toe en kerk toe geneem. In haar teenwoordigheid was dit makliker en selfs ‘n bietjie veiliger om met vreemdelinge te praat, want onse mense verstaan en praat mos so.

Afrikaans het vir my stories vertel en my later aangemoedig om my eie storie te skryf – net soos Pannevis, A.G. Visser, C.J. Langenhoven en Koos du Plessis hulle stories geskryf het.

Afrikaans het haarself tuisgemaak in my huis en my familieboom sien groei. Sy het my ouers, grootouers en voorouers van kindsbeen af geken. Afrikaans is meer as net ‘n huistaal, dis ‘n moedertaal wat aanpas, oorleef en haar mense saamdra van een geslag na ‘n ander. Sy dra haar veggees met trots.

 In ons huis is ons in Afrikaans opgevoed en was sleutelwoorde soos “asseblief” en “dankie” broodnodig om goeie verhoudings te bou. Ek het in my eie taal leer bid en God deur my Afrikaanse Bybels leer ken. So jonk soos wat Afrikaans is, verstaan God wat ek sê.

Afrikaans leef nie net in ons kombuis nie. Dis nie nét koeksisters, melkkos, melktert, biltong, bobotie en boeretroos nie. Dis nie nét volksliedjies en boeredanse nie. Dis wetenskap, kuns en geskiedenis. Dis die goue draad tussen ons mense. Dis méér as net ‘n taal, dit is identiteit.

Afrikaans is baie meer as net 44 mense en selfs ‘n bietjie ouer as 100 jaar.

Dit sal nooit te veel of te min, te jonk of te oud wees nie.

Afrikaans is ék.

Afrikaans is júlle.

Afrikaans is óns.

Afrikaans is monumentaal.

Ja, liewe Leser, kyk net hoe ver het ons gekom.

Afrikaans ís en sy is hier om te bly!

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5