Liewe leser
Brief 21
My oupa was ‘n bosbouer in Tsitsikamma. Ongelukkig is hy vroeg in my kinderdae oorlede en het ek nie die voorreg gehad om hom te leer ken nie, daarom maak ek staat op stories en houtprojekte wat hy aangepak het om uit te vind watter soort mens hy was. Een van sy projekte wat hy vroeg in my ma se lewe voltooi het, was ‘n swaai. Dié swaai staan nou nog voor my grootouers se huis. As kind het ek laatmiddae gereeld gaan swaai en my aan die die Oos-Kaapse berge verkyk. Om sulke oomblike met maatjies te deel, was altyd een van my hartsbegeertes. Een so ‘n middag staan my nou nog voor die gees: Oudergewoonte het ek begin swaai en “Hallo” na die berge uitgeroep en my eie stem het teruggeëggo. Minwetende dat dit my eie stem was wat ek gehoor het, was ek vas oortuig dat ek ‘n nuwe maatjie in die berge gemaak het. Tot vandag toe nog was dit ongetwyfeld een van die beste gesprekke wat ek ooit al met myself gehad het.
Dit is ‘n feit dat die wêreld waarin kinders vandag groot word, ligjare verskil van die wêreld waaraan ons gewoond was. Ek dink terug aan die parkies wat skoon en veilig was en die modderkoekies wat ons speel-speel kon bak. Ja, liewe Leser, selfs die natuur het saamgespeel. En selfs al was jy soms in die moeilikheid omdat jou klere vuil was, was dit steeds beter as om heeldag in ‘n televisieskerm vas te kyk, want boerseep was alles uit, terwyl die herinneringe vir ewig bly.
Om ‘n kind te wees, bly ‘n avontuur. Daar was kaalvoet dae en soms skoor soek dae. Ons was tevrede met min, want ons verbeeldings was sterker as die realiteit.
Iets uit my kinderdae wat steeds vir my uitstaan, is kinders se onskuld en absolute eerlikheid. Hulle sê wat ons almal dink, en wonder oor die dinge waaroor ons juis moet dink. As ons mooi daaroor dink, weet hulle partykeer meer as ons en kan ons baie by hulle leer. Hulle weet meer, want ons vergeet dikwels waaroor die lewe eintlik gaan en onderskat die geloof van ‘n kind.
Ongelukkig raak nie alle kinders maklik groot nie en moet party weens omstandighede te vinnig volwasse raak. Dit bly hartverskeurend om te sien hoe ‘n kind se gemoed en vertroue geknak word en dat selfs wegkruipertjie nie meer altyd net ‘n speletjie is nie, maar eerder ‘n oorlewingstegniek. Deesdae bly kinders ter wille van hul eie veiligheid binne, en ons ondersoek elke fliek op die silwerskerm ter wille van hul gemoed.
‘n Kind se grootste behoefte is om liefde te gee en liefgehê en aanvaar te word. Kinders is lig. Dis ons plig om na hulle om te sien en vir hul ‘n veilige hawe te skep.
Van een generasie, na ‘n ander – dis hoe ons aan ons toekoms bou.
Hilde
Helpende Hand