Liewe Leser
Brief 22
My ouma was ‘n bedrywige plaasmens wat nooit vir werk geskrik het nie. As jy haar sien, was sy op haar voete en was haar hande besig met van tuinmaak tot kosmaak.
Een van die take wat sy dikwels aangepak het, was om konfyt te kook. Waar sy konfyt gekook het was irrelevant, want volgens oorlewering het sy selfs by kampe voor die gasstofie gestaan en kook. Verbeel jou…Om jou gasstofie vir konfyt te gebruik.
Dit klink soos harde werk, maar dalk was dié harde werk al wat sy geken het. Jy leef vir jou werk, ter wille van oorlewing.
Soos wat sy ouer geword het, het haar werkslading ook ligter geword. Ek moet bieg, sy was ‘n hardkoppige vrou en het nooit van dié gedagte gehou nie. Ná haar man en haar seun se dood het sy ook gereeld met eensaamheid geworstel en sedertdien die gasstofie opsy geskuif en aktief in liefde vir haar kleinkinders belê. Alhoewel sy baie ver van ons gewoon het, het sy daarvan ‘n punt gemaak om steeds deel van ons lewens te bly.
As kind het ons saans in ‘n ry by die landlyn gestaan om met haar te praat. So nou en dan het ons ‘n pakkie in die pos ontvang met ‘n brief wat verduidelik watter geskenk aan wie behoort. En soos wat tegnologie ontwikkel het, het sy haar briewe in SMSe ook gestuur. As tiener was dit soms frustrerend om onverwagse SMSe in die klaskamer te ontvang, maar in my ouma se oë het haar tydsand vinniger begin val en het die liefde nie vir die skoolklok gewag nie.
As daar een ding is wat ek by my ouma geleer het, is dit dat die lewe vir niemand stilstaan nie en dat ons die afhanklikheid van ‘n kind se liefde onderskat. Ons is afhanklik daarvan, want ons was ook eens op ‘n tyd onskuldige kinders wat ‘n behoefte aan aanvaarding en liefde gehad het. Dis maklik om dit te gee, want mettertyd besef ons ook hoe skaars die liefde kan wees.
Hilde
Helpende Hand