Liewe Leser
Brief 23
Verlede week sit ek alleen in ‘n plaaslike koffiewinkel en hou die res van die wêreld voor my dop. Een vrou vang my oog. Sy sit alleen en staar nikssiende voor haar uit. Sy is teenwoordig, maar ook afwesig. So asof die wêreld om haar verdwyn het en sy nou in ‘n wêreld van haar eie leef.
In ‘n wêreld waar ‘n mens net raakgesien wil word en die behoefte het aan aanvaarding, gebeur dit soms dat ons ook die neiging het om onsself klein genoeg te maak, sodat ons vir ‘n rukkie net kan verdwyn.
Oor die algemeen vind ek dit interessant wat ons wil hê die wêreld van ons moet sien en wat ons kies om eerder vir onsself te hou. Ons almal is stukkend, die wêreld óók. Waarom gee ons dan voor dat ons heel is, wel wetende dat ons almal met stukke sit? Miskien wil ons hê dat mense die mooi in ons moet raaksien juis omdat ons nie wil hê die pyn moet definieer wie ons is nie en, omdat ons volkome liefgehê en aanvaar wil word ten spyte van die onherstelbare skade.
As iemand wat self met stukke sit en sukkel om die mooi in myself te sien, wonder ek ook soms wat die wêreld in ons sien wat ons nie in onsself kan sien nie? En waarom kan ons dit nie altyd eerste raaksien nie? Wat maak ons elkeen buitengewoon spesiaal as ons almal spesiaal is? Wat maak ons óns? En is dit genoeg vir ons om net óns te wees?
Miskien maak ons ons oë toe wanneer ons bid sodat ons die onsienlike kan raaksien. Miskien staar ons nikssiende voor ons uit sodat ons na ons harte kan luister. Miskien, as ons mooi kyk, sien ons hoe mooi die stukke van die lewe kán wees en dat ons die wêreld ’n bietjie mooier kan maak omdat ons weet dat ons net ’n rukkie vir mekaar geleen is.
Hilde
Helpende Hand