Liewe leser

Brief 20

Liewe Pa

Ek skryf vir pa ‘n dankie-brief. Geen versuikerde woorde nie. Opreg en reguit – net soos wat pa dit verkies.

Ek het al baie dinge by Pa geleer. Soms van sien en soms van hoor. “Elke besluit het gevolge. Wees versigtig vir skape, want soms is hulle wolwe.”

Pa het al baie gegee en ‘n hele paar houe gevat: “Soms moet jy die ander wang draai, wanneer die lewe jou klap.” Om op te staan vir dit wat reg is en steeds staande te bly wanneer die regter weg is.

Pa het my geleer om planne te maak en paraat te wees. Dankie, Pa, vir elke gebed en dat Pa uit die Groot Boek lees.

Dis net Pa wat ‘n droë grappie vlymskerp kan maak. Pa het my ook geleer om trots te staan vir ‘n saak. Pa het my soms in die diep kant ingegooi, maar my ook leer swem en gekeer dat ek sink.

Dankie dat Pa my daaraan herinner dat ek brawer is as wat ek dink.

En dat ek my ken en standaarde hoog moet hou – veral in die tye wanneer ek inmekaar wil vou.

Pa het my geleer dat die beste dinge in die lewe eintlik eenvoudig is en dat ons met min tevrede kan wees. Ja, Pa, Pa het my van dankbaarheid ook geleer.

Hoe gelukkig is ek nie om ‘n pa te hê wat diep spore gelos het nie. ‘n Man van integriteit, lojaal aan die mense wat hy die liefste het.

Dankie, Pa.

Ek sluit my brief af met ‘n dankgebed.

Hilde