Liewe leser
Brief 19
Vadersdag is om die draai, daarom voel ek dat dit gepas is om my gunstelingfoto van my en my pa met jou te deel. Ek was een jaar oud en dit was my eerste seevakansie saam met my ouers. Omdat ek so nuuskierig oor die lewe is, het my pa seker gemaak dat ek nie in die see sal inloop nie. Hy het gereeld ‘n beskermde hand oor my gehou – vanuit ‘n metaforiese oogpunt doen hy dit vandag nog steeds. Hierdie foto herinner my gereeld aan die lewenslesse wat ek by my pa geleer het en dit het my laat wonder watter lewenslesse van elke pa en pa-figuur in die Helpende Hand-familie gekoester word. Vandag ken ek Helpende Hand ‘n bietjie beter as gister en verstaan ek die familie ook ‘n bietjie beter.
Hier is ‘n lys van lewenslesse wat ons by pa’s kan leer:
- ‘n Gebed is soos asemhaling vir die siel: As jy nie gereeld bid nie, sal jou siel daaronder lei.
- Werk hard en doen die plantwerk, maar wag geduldig op die Here wat die reën sal stuur om die oes in te bring.
- Doen jou bes en God doen die res. Gee altyd jou heel beste met alles wat jy aanpak, selfs al is dit nie vir jou lekker nie.
- Moenie opgee voordat jy ‘n werk of taak voltooi het nie.
- Eers dink, dan ink – veral in die eksamentyd. Dink mooi voor jy doen.
- Moet nooit kwaad gaan slaap nie.
- Besoek die minder bevoorregtes – dit bring vertroosting en hoop.
- Seën die kos aan tafel.
- Gaan eenkeer ‘n jaar saam met vakansie. Al is dit net by die dam.
- Moet nooit na middernag uitbly nie. Jy is altyd middernag tuis, want na middernag begin al die moeilikheid.
- Stel die Here eerste. Bid saam as ‘n gesin en gaan elke Sondag saam kerk toe.
- Bly op jou knieë sodat niemand op jou tone kan trap nie.
- Prioritiseer en maak altyd tyd vir jou kinders, ’n grappie en ’n koppie koffie wees.
- Die makste hond byt die seerste.
- Jou woord is jou eer.
- Wees altyd eerlik, selfs al kan dit jou in die moeilikheid laat beland.
- Daar is altyd ‘n oplossing – dit hang van jou gesindheid af.
- Om nederig te bly, is ‘n keuse.
- Moet nooit jouself beter as ander ag nie, maak nie saak wat hul omstandighede is nie.
- Help jou naastes waar jy kan, sonder om dit te verkondig.
- Sorg dat jy altyd netjies aantrek vir kerk en werk.
- Moenie skuld maak as jy nie kan bekostig om iets te koop nie.
- Waardeer die klein dingetjies in die lewe.
- Wys belangstelling in dinge waarvan jou geliefdes hou – nie ter wille van jou nie, maar ter wille van jou geliefdes.
- As jy iets geleen het, maak seker jy gee dit in ‘n beter toestand terug.
- Bêre elke ding op sy plek, nadat jy dit gebruik het.
- Wees altyd bereid om nog te leer.
- Goeie vriende kan net met een hand opgetel word.
- ’n Goeie naam kan in ’n oomblik afgebreek word.
Dis ons lysie. Wat het jou pa of pa-figuur vir jou geleer, liewe Leser?
Ek sluit my brief af met ’n lewensles wat René Roux, Helpende Hand se Adjunk-Uitvoerende Hoof: Kommunikasie, by Reg Smith geleer het:
Die jagveld is my stil-wees-plek.
Die stukkie natuurwees wat die son bedek.
Dis ‘n plekkie vir jou ook, my meisiekind
‘n stukkie aarde waar jy eenwees met die wild kan vind.
Hilde