Liewe leser

Brief 18

As kind het ek gereeld my Desembervakansies op my grootouers se plaas deurgebring. Vandag bly dit een van my gunstelingplekke, want daar was ek kaalvoet, kilometers weg van die lewe se gejaag en sorgvry.

Net langs die plaas is ‘n woud. En anderkant die woud was ‘n klein kafeetjie en vulstasie. In ‘n plaaslike gemeenskap waar almal mekaar ken, is die kafee jare lank deur ‘n familielid bestuur. In my kleuterdae het my ouma en my ouers beurte gemaak om ons kinders laatmiddae vir uitstappies te vat en ‘n besoek by dié kafee af te lê. Dit was ‘n spesiale plek, want jy kon jou lekkergoed in sente betaal. Onthou jy nog, liewe Leser, hoe lekkergoed in glaskaste vertoon is en dat die hoeveelheid lekkers met die hand vir jou uitgeskep is op grond van die waarde van jou muntstuk?

My keuse van lekkers het gewissel tussen borrelgom wat sy smaak vinnig verloor, malvalekkers, appelkosies, sjokoladeballetjies en ‘n verskeidenheid van lekkergoed wat in suiker gerol is. Sodra ek my keuse gemaak het, het die dame agter die toonbank koerantpapier gevat, my lekkers daarin geplaas en in ‘n keëlvormige sakkie toegedraai. Binne ure was my energievlakke hoog en my lekkergoed op.

Vandag ry ons verlangend verby die kafee met sy bottoe deur en die soet herinneringe wat langer as die borrelgom se smaak hou. Selfs al sou die deur oop wees, sit ons vandag met uitdagings, draai ons ons sente om en verlang ons na die dae toe sente nog waarde gehad het.

Ja, liewe Leser, soos wat ‘n mens ouer word, is dit normaal om na die lewe te verlang wat ons geken het. Dink aan die dae toe studente in rye by tiekiebokse gestaan het en die dae toe ou sentrales nog gewerk het. Ek dink ook aan die dae toe ons aartappelskyfies op toebroodjies geëet het en die laatmiddae toe ons sorgvry met ons fietse van een vriend se huis na ‘n ander kon ry; toe ons verveeld was wanneer dit buite reën en saam met Trompie en die Boksombende en Saartjie op ‘n avontuur kon gaan; die twee gaatjies wat ons in kondensmelkblikkies gedruk het en die pure vreugde waarmee ons die kondensmelk uit die blikkie gesuig het.

Dis goed om terug te kyk en aan elke herinneringe te kou, want dis die dae wat ons ook dikwels onderskat het en as vanselfsprekend aanvaar het. Miskien sal dit help as ons vandag, met uitdagings en al, deel van ons “goeie ou dae” te maak. Om die mense wat vir ons geleen is van voor af te waardeer en vir ons kinders te vertel hoe ons grootwordjare gelyk het sonder dat dit ons ‘n enkele sent sal kos.

Hilde

Helpende Hand