Liewe Leser
Brief 17
Dit is ‘n feit dat die gebruik van woorde ‘n groot impak op ons gemoed kan hê. Soms gebruik ons dit om heel te maak en soms om seer te maak. Ironies genoeg is dit die woorde wat die seerste maak wat die neiging het om ons die langste by te bly. Dit bly ons lank by, want ons onderskat die diepte van die wond en daarom voel dit soms ongeneesbaar.
Een van die wonde waarmee ek lank geworstel het, was toe daar vir my gesê is dat ek as mens, minder as ‘n sandkorreltjie werd is. Ek het lank aan hierdie woorde herkou en dit later begin glo, selfs al het ek geweet dit is nie die waarheid nie. Mettertyd het ek my waarde aan ‘n sandkorreltjie begin meet. Ja, liewe Leser, ek weet dit klink amper waansinnig om jouself met iets so kleins te vergelyk. Miskien kan ek jou perspektief verander deur jou met nuwe oë na ‘n sandkorreltjie se waarde te laat kyk.
In my kinderdae het ons gaan swem in ‘n rivier, wat stapafstand van my ouma se huis af was. Die rivier se water was soortgelyk aan die kleur van rooibostee en dit was met klippe en rotse omring. Wat my altyd gefassineer het, was die tekstuur van die klippe wat op die bodem van die rivier gelê het. Hulle was gewoonlik glad en was die rede waarom ons versigtig moes trap. Vanuit ‘n wetenskaplike oogpunt het ek later besef dat die water sy rooibostee-kleur van die plantegroei se minerale kry, en dat die klippe stelselmatig deur sand glad geskuur is. Sedertdien bevraagteken ek nie meer die impak wat ‘n sandkorreltjie kan hê nie; ek besef watter potensiaal sand werklik het.
Meng jou sand met ander materiale en jy mag dalk net jou lewe ‘n bietjie struktuur gee – van sandsteenhuise en -kerke tot brûe wat jare lank hou, paaie wat voor jou uitgelê word en vensters wat lig inlaat. Ja, liewe Leser, as jy sand reg gebruik, mag jy dalk net iets daarmee bou.
Net soos met sand, hang dit af hoe jy jou woorde gebruik. Dit kan afbreek, maar dit kan ook opbou. Een sandkorreltjie het op die oog af niks waarde vir ons het nie, maar as ons ‘n klomp sandkorreltjies `bymekaar tel, kan hulle baie beteken. Net so kan jy ook ‘n verskil maak as jy jou hande uitreik en saam met ander aan ‘n vry en voorspoedige toekoms werk. Selfs al is die omstandighede uitdagend, lé die verskil steeds by ons.
Hilde
Helpende Hand