Liewe Leser

Brief 29

In een van my boekrakke is daar ‘n reeks visuele dagboeke waaraan ek deur die jare gewerk het. ‘n Visuele dagboek gee jou die geleentheid om jou dag visueel uit te beeld. In plaas van skryf, vertel jy eerder met behulp van ’n prentjie hoe jou dag deur jou oë gelyk het. Dis die een boek waarin ek myself toelaat om die lelike prentjies te teken en foute te maak. Dit help, want in my visuele dagboek is daar nie reëls nie en hoef die binnekant vir niemand mooi te lyk nie. Dis gerusstellend om te weet dat ek myself aan niemand hoef te bewys nie – nie eens aan myself nie. As ‘n grafiese ontwerper sien ek dit as ‘n ander manier om mooi met myself te praat: Ek hoef nie te dink nie, ek kan net doen en dit aanvaar vir wat dit is, omdat dit is wat dit is. Die prentjies ís net.

Die skrywer Nicola Jane Hobbs het die volgende gesê: “In plaas daarvan dat ons onsself afvra of ons hard genoeg gewerk het sodat ons kan rus, moet ons dalk eerder onsself afvra of ons genoeg gerus het sodat ons hard kan werk.” Ek dink dis ’n baie mooi manier om met onsself te praat in ‘n wêreld waar ons geneig is om ons te oorwerk.

Miskien kan ons mooi met onsself praat deur te besef ons mag onsself die nodige rus gun. Hoe kan ons na ander omsien as ons nie na onsself kan kyk nie?

Ons vergeet dikwels die manier waarop ons met onsself praat, reflekteer die manier waarop ons met die mense om ons praat. Praat mooi met ander, maar ook met jouself, want jy is elke dag in jou eie geselskap.

Hilde

Helpende Hand