Geweldsmisdaad teen vroue

Geweldsmisdaad teen vroue

Daar is ‘n paar dinge waaroor ons as Suid-Afrikaners nie gesels nie. Een daarvan is iets wat daagliks plaasvind: geweldsmisdaad teen vroue. Volgens Statistieke Suid-Afrika beleef een uit vyf vroue geweld van hul lewensmaat. Ons onvermoë om dit te hanteer of ons moedeloosheid omdat ons dit nie kan stopsit nie weerhou ons daarvan om daaroor te praat.

Geweldsmisdaad teen vroue in Suid-Afrika is niks nuuts nie; dit het nog altyd gebeur, meestal agter toe deure. Ons land het van die hoogste vlakke van vrouemishandeling, seksuele aanranding, verkragting, en ander vorme van geweld teen vroue. Statistieke toon dat vroue in Suid-Afrika, insluitend jong meisies en bejaarde vroue, ‘n groot risiko loop om slagoffers van seksuele aanranding te word. Dit is verontrustend dat baie van hierdie aanvalle nie aangemeld word nie, moontlik omdat die slagoffers finansieel afhanklik is van hul gewelddadige lewensmaat of omdat vrees en sosiale stigmatisering hulle daarvan weerhou. Baie het ook geen vertrou meer in ons regstelsel en polisiediens nie.

Huishoudelike geweld is nog ‘n groot probleem in Suid-Afrika. Dit is geweld wat in ‘n intieme verhouding voorkom en kan fisiese, psigiese en emosionele mishandeling insluit. Baie Suid-Afrikaanse vroue ly daaronder en die situasie word bemoeilik deurdat daar nie altyd genoeg organisasies is wat in die beste belang van dié vroue optree nie.

Vroue in landelike gebiede en arm gemeenskappe is kwesbaar vir plaasaanvalle en misdaad as gevolg van die gebrek aan infrastruktuur, veiligheidstrukture en toegang tot hulpbronne. Baie van hulle het nie die nodige ondersteuning of beskerming nie.

Suid-Afrika is natuurlik ook ‘n gewilde bestemming vir mensehandel. Baie vroue, veral jong meisies, word uitgebuit en gedwing om in die seksbedryf te werk.

Die regering en verskeie organisasies het maatreëls ingestel om hierdie misdaad te probeer beperk, maar die uitdaging bly groot en alle belanghebbendes moet ‘n bydrae lewer. Dit is van kardinale belang dat die publiek bewus gemaak word van dié problematiek. Die bevordering van gelyke regte en die uitbouing van ondersteunende strukture vir vroue kan ook help om hierdie ernstige sosiale krisis te beveg.

Daar is reeds ‘n verskeidenheid organisasies, programme en hulpbronne wat spesifiek gemik is op die ondersteuning van vroue in Suid-Afrika teen geweldsmisdaad. Hier volg ‘n paar van die belangrikste hulpmiddels en dienste wat beskikbaar is.

  • Die AfriForum-traumaeenheid staan slagoffers by wat deur geweld geraak is of trauma beleef het tydens plaasaanvalle of ander geweldsmisdade. Hulle ondersteun slagoffers met berading, ontlonting en emosionele ondersteuning, bemagtiging en materiële hulp na die misdaad. Kontak hulle op 064 870 8312 of 012 880 1954.
  • LifeLine se nasionale krisisnommer vir geweld teen vroue en kinders is 0800 150 150. Vroue en kinders kan hulle skakel vir hulp en ondersteuning in die geval van enige vorm van geweld of misbruik.
  • Daar is verskeie veiligheidshuise landswyd waar slagoffers van geweld ‘n heenkome kan vind. Hierdie instellings bied veilige onderdak, berading, en praktiese ondersteuning. Maak kontak met die veiligheidshuise in jou omgewing.
  • Die Saartjie Baartman Sentrum vir Vroue en Kinders in Kaapstad fokus op die voorkoming van geweld teen vroue en kinders en bied terapeutiese en regshulp aan slagoffers. Hulle bevorder ook bewusmaking onder die publiek. Jy kan meer inligting op hul webblad vind: www.saartjiebaartmancentre.org.za
  • Die Jes Foord Stigting is vernoem na ‘n slagoffer wat verkragting oorleef het. Hulle bied ondersteuning aan slagoffers van verkragting en seksuele geweld en dra ook by tot bewusmaking van die probleem. Lees meer op hulle webblad by www.jff.org.za
  • People Opposing Women Abuse (POWA) bied berading en regshulp aan vroue wat slagoffers van geweld is. Hulle webadres is  https://www.powa.co.za/
  • Vroue wat slagoffers van misdaad is, het toegang tot gratis regshulp. Advokate en organisasies soos die Prokureursvereniging van Suid-Afrika bied pro bono ondersteuning aan vroue wat nie die finansiële middele het om regsadvies te bekom nie.

Dit is uiters belangrik dat ons betrokke raak by die bewusmaking van geweld teenoor vroue. Deur gemeenskappe daarvan bewus te maak, kan ons ‘n einde maak aan die stigmatisering van slagoffers wat openlik praat oor die misdade wat teen hulle gepleeg is. As jy of iemand wat jy ken hulp nodig het, moedig ons jou aan om van hierdie hulpbronne gebruik te maak. Ons moet hande vat en saamstaan teen geweldsmisdaad teen vroue. Deur hulp te soek en ondersteuning te bied, kan ons ‘n verskil maak in die lewens van vroue wat dit nodig het.