Liewe Leser

Brief 33

Dis maklik om ‘n lysie saam te stel en van iemand anders se lewenslesse te lees, maar dis nie altyd so maklik om self daardie lewenslesse te leer nie, want gewoonlik spruit dit uit moeilike omstandighede en foute. Ek troos myself daaraan dat my lewenslesse gegrond is op die ervaring en kennis wat ek elke dag opbou.

In een van ons vorige briewe, Brief 16, het ek ‘n lysie lewenslesse met julle gedeel. Die lewe gaan aan en sedertdien het ek nog ‘n hele paar dinge geleer:

  1. Die woorde wat jy vandag gebruik, kan môre se vrede beïnvloed.
  2. As jy nie saam met mense groei nie, gaan julle mekaar ontgroei.
  3. Jy kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir iemand anders se gedrag nie.
  4. Om onnodig jammer te sê, is soos om “Wolf!” te skree: Niemand gaan weet wanneer jy régtig jammer is nie.
  5. As jy vergeet het hoe om te rus, is dit dalk tyd dat jy rus.
  6. ‘n Gebed het nie altyd woorde nodig vir God om jou te verstaan nie. Hy ken jou hart. Hy wéét.
  7. Praat mooi met jouself – veral op die dae wanneer jy alles behalwe mooi voel.
  8. Vat dit van iemand wat wéét: Vrees hou jou terug! Vat die kans.
  9. Glo dit of nie, maar jy het mense in jou hoek.
  10. Of mense nou ‘n les is of ‘n goeie herinnering is, hulle bly vir jou geleen.

Ons is mense wat menslike foute maak. Vandag weet ek meer as wat ek gister geweet het en alhoewel môre nie vanselfsprekend is nie, bly ek nuuskierig oor wat môre vir ons kan leer.

Hilde

Helpende Hand