Liewe Leser

Brief 32

As ek myself in een sin moet opsom sal dit die volgende wees: Ek is ‘n nuuskierige grafiese ontwerper met ’n voorliefde vir Afrikaans en ons Afrikaner-erfenis. My ouers het ’n punt daarvan gemaak om my van kleins af van die Afrikaner-geskiedenis te leer en ook om dit te respekteer. Op grond van dit wat hulle vir my geleer het, neem ek die inisiatief en kies om steeds getrou monumente en beelde steeds getrou te besoek oor ons geskiedenis te besoek. Uit beginsel het dit my erns geword, want as ons nie weet waar ons vandaan kom nie, sal ons nie vooruit kan gaan nie.

Erfenisdag is om die draai, daarom deel ek graag ‘n skryfstuk uit my argiewe met jou:

Ek kyk terug na die verlede. Ek sien wat gebeur: Dis Wolraad Woltemade wat die stormwaters met sy perd trotseer. Saam sing ons “My Sarie Marais” en hoor ons van Racheltjie de Beer. Wat van die vroue wat kaalvoet oor die Drakensberge moes loop en Jopie Fourie wat sy laaste woorde in ink moes doop? Nonnie de la Rey wat alles neergepen het en Japie Greyling wat sy pa beskerm het. Ons bewonder die waagmoed en wonder soms wat die Siener kon sien. Getrou bly ons steeds aan die God wat ons dien.

Alles het uit keuses bestaan…

Elke keuse sit ook met gevolge en verantwoordelikheid. Soms is die slimste keuse, die moeilikste besluit.

Vandag skryf ons gedigte met die hoop dat ons geskiedenis sal voortleef. Ons sorg vir die instandhouding van grafte, monumente en ons taal wat ons moet laat voortleef.

Ons saai en ons plant kruise. Ons byt op ons tande en sit met gebalde vuiste.

Ons verskil van mekaar en sê ons sê wanneer dit nodig is. Getrou lê ons saam die Gelofte af, want ons weet ons God is daar.

Dis wie ons is. Ons los spore en hou koers. Saam staan ons vir iets en val ons vir niks. Ons kies om te bly, eerder as om te vlug. Ons het nie dit gekies nie; dit het óns gekies. Dit is gewis. Dis wie ons is!

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5