Liewe Leser

Brief 34

In my kinderdae het ek wit kerkskoene met lang sokkies by ‘n rok gedra. In daardie tyd was die strate nog veilig en was die kerk stapafstand van ons huis af. Al wou ek grotendeels kaalvoet wees, het my kerkskoene meer as een doel gehad -ek kon sorgeloos oor die warm teer en los klippies kerk toe stap. Mettertyd het my skoene te klein geword en moes ons dit met nuwes vervang. Ja, liewe Leser, so ontgroei ons mense ook.

Agter die glans en glorie van nuwe skoene skuil dikwels ‘n dieper verhaal. Hoe langer ons ons skoene dra, hoe dieper is die spore wat hulle op ons lewenspad agterlaat. Mettertyd kry ons skoene karakter en het elke skuurmerk, duik en vlek ‘n storie wat ons saam met ons dra.

Vanuit ‘n metaforiese hoek kan ons sien hoe ons skoene tree vir tree gehelp het om ons drome te volg en plekke te sien. Ons skoene is betroubaar, want dit verhoed ons om op dorings te trap en laat ons toe om op warm klippe te staan. Skoene dra stories en herinner ons aan die pad wat ons gestap het en die oomblikke wat ons beleef het. Dis ‘n getuienis van ons verlede en vooruitsig van die avonture wat nog voorlê.

Ironies genoeg is nie almal van ons bereid om ons in iemand anders se skoene te plaas nie, juis omdat ons nie weet hoe lank die skoene al gedra is en waardeur hulle moes gaan nie. Ons gee dit nie ‘n kans nie, want ons skoene is al wat ons ken.

Soms moet ons afskeid neem van ou skoene om plek te maak vir nuwes, want ‘n ou skoen kan moeg raak en jou net so ver vat. Nie alle skoene is vir ons gemaak nie; party kan ons voete met blase los. Dit bly egter ons keuse of ons wil vasbyt en die skoene tydsaam wil inloop en of ons eerder die nuwe skoene splinternuut in ons klerekas gaan los.  

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5