Liewe Leser

Brief 35

Ek het al gehoor dat ’n roeping ’n melodie is wat in elkeen van ons sing. Dis ’n storie wat geskryf moet word en ’n bestemming wat ons moet bereik.

Dit het my ’n rukkie geneem om te besef dat ’n roeping ’n lewensreis is wat selfontdekking,

eerlikheid en die bereidwilligheid om dieper na die lewe te kyk, vereis. Dit is die drang om

betekenisvolle impak te maak en om elke dag ’n beter mens te wees as wat ons die vorige dag was.

Omdat ons elkeen geroep is om ’n bydrae tot die wêreld te maak, bied ’n roeping ons die voorreg

om paaie met mense te kruis. Dit herinner ons aan die groter prentjie waarvan ons almal deel is en

dat ons almal besig is om saam aan een storie te skryf.

Een van Paul Kruger se bekendste aanhalings lui as volg: “Neem uit die verlede alles wat goed en edel is, en bou daarop die toekoms.”

As iemand wat gereeld na die verlede terugkyk en op introspeksie floreer, dink ek dat ek baie by

hom kan leer. Uit ervaring sal ek erken dat ’n roeping ook die dryfveer is wat ons aanmoedig om

vorentoe te beweeg selfs al raak die lewe hoe moeilik. ’n Roeping versinnebeeld hoop, daarom sien

ons kans vir die onmoontlike.

So uitdagend soos wat jou lewensreis kan wees, wil ek jou daaraan herinner dat jy geroep is om ’n

unieke bydrae tot hierdie wêreld te maak, ’n bydrae wat niemand anders as jy kan lewer nie. Jy is

geroep om jou melodie te sing, aan jou storie te skryf en jou bestemming op God se tyd te bereik. Jy

hoort hier, want sonder jou is dit onmoontlik om verder aan die groter prentjie te bou.

Hilde

Helpende Hand