Liewe Leser

Brief 36

Ek is van kindsbeen af geleer dat ’n mens dankbaar moet wees vir dit wat jy het en dat dit wat jy

het, bloot net uit genade vir jou geleen is. Ek het groot geword met die gedagte om tevrede met

min te wees, sodat wanneer ons meer kry as waaraan ons gewoond is, ons die waarde agter dit

sal kan raaksien en dit dan opreg waardeer. Soms is dit maklik om met min klaar te kom, maar

om die minste te wees bly vir my steeds ’n uitdaging.

Die eerste aangetekende gebruik van ’n nul-agtige simbool dateer iewers rondom die derde eeu

voor Christus in Babilon. Interessant genoeg was hierdie alomteenwoordige simbool vir “niks”

eers as ’n plekhouer gebruik om afwesighede in getalkolomme aan te dui en nie ’n getal met sy

eie unieke waarde of eienskappe nie.

Nul se belangrikheid het eers in die sewende eeu na Christus in Indië gekom, waar die

wiskundige, Brahmagupta, klein kolletjies onder nommers gebruik het om ’n nul-plekhouer te

wys en die nul eerder as ’n nulwaarde beskou het. Sedertdien het die nul vanaf Indië na China

en terug na die Midde-Ooste gereis. al-Khowarizmi het die eerste Indiese rekenkunde

gesintetiseer en bewys dat die nul in algebraïese vergelykings kon funksioneer. Teen die

negende eeu het die nul deel van die Arabiese syferstelsel binnegegaan en word dit steeds

vandag as ’n ovaalvorm gebruik.

Net soos nul, het ons ook ’n storie. Iets wat op ’n tyd geen waarde gedra het nie en slegs as ’n

plekhouer gebruik was, het skielik die mag gekry om ’n getal se waarde drasties te verhoog. Hoe

meer nulle agter ’n een, hoe beter.

Soms voel ons soos ’n nul, want ’n nul op sy eie beteken ook “geen”, “niks”, “min” en “leeg”.

’n Nul op sy eie skree minderwaardigheid. Wat ons dikwels vergeet is dat dié simbool

afwesigheid en teenwoordigheid gelyktydig kan verteenwoordig. ’n Nul is nie positief of negatief

nie. Wat jy daarmee maak en hoe jy daarna kyk, bepaal ’n nul se waarde.

In ’n wêreld waar alles uit nulle en ene bestaan, moet ons miskien begin besef dat ’n nul nie

noodwendig niks is nie, maar dat dit die potensiaal het om iets te kan wees. Selfs die nul het

onder begin om sy waarde te vind en jy kan ook!

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5