Liewe Leser

Brief 37

Soms is dit goed om terug te kyk en opnuut dankbaar te wees vir die goeie dae wat ons onderskat het. Ek dink vandag spesifiek aan die sorgvrye dae wat ek as kind gehad het. Dis normaal om na die goeie dae te verlang – veral as jy vandag heelwat ouer is.

Ek onthou die dae toe ons kinders was en die Afrika-son op ons rûe en blaaie gebrand het. Ons het buite gespeel en het alles kaalvoete aangepak – selfs al was die teer warm en die veld vol dorings. Ons kinderdae was ’n tyd van onskuld en avontuur. Ons het kleilat langs die rivier gespeel en ons hande het geruik na die reuk wat net veldblomme kan afgee.

Dit was nog veilig en ons kon smiddae met ons fietse in die dorp rondry. Ons het vuil by die huis aangekom, agter ons ore gewas en met ’n bord gekookte kos aan tafel gebid. Ja, liewe Leser, ek verwys na die kommervrye dae toe ons verbeeldings sterk genoeg was om ons eie speletjies uit te dink en toe ons ons eie speelgoed kon maak. Van kaskarre bou tot papierpoppe skep, van rekspring tot wegkruipertjie speel. Ons was tevrede met min, want ons het die keuse gehad om ons tyd te benut en die beste van iets te maak.

Een van die grootste bydraes wat die jeug in ’n gemeenskap kan maak, is om hul kennis en vaardighede te ontwikkel. Vandag lyk die lewe ’n bietjie anders vir ons kinders en probeer ons om soortgelyke ervarings vir hul te gee so ver as wat ons kan. Ons vertel hulle van die dae toe skool nog skóól was en van ons familiewortels en die uitdagings waarmee ons voorvaders moes sit. So dankbaar soos wat ek is om vandag my kinderdae te koester, so verantwoordelik is ek ook om dit wat ek geleer het aan vandag se jeug oor te dra. Ek is verantwoordelik daarvoor, want dis hoe ons die verskil gaan sien waarna ons verlang en hoe ons volstoom vooruitgaan, selfs al kyk ons soms terug.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5