Liewe Leser

Brief 5

Liewe Leser

Een van die onderliggende behoeftes waarmee ons almal sit, is om iewers te hoort. Ons heg waarde aan plekke, want dis waar die herinneringe geskep is. Vandag skroom ons nie om foto’s te neem nie – hoofsaaklik omdat ons die herinneringe graag sal wil saamneem en omdat ons weet dat plekke en mense net vir ons geleen is.

Soms is ’n herinnering so diep in ons harte ingeprent, dat nie eens ’n foto sterk genoeg is om dit te dra nie. Ons los die kamera, want ons klou vas aan die oomblik. Miskien is dit hoe geborgenheid voel: om tuis te wees in iemand se teenwoordigheid en met sekerheid te weet dat ons veilig is. Ons voel tuis, want ons behoort.

’n Huis is nie ’n tuiste voordat jy dit joune gemaak het nie. Dis ook die eenvoudige gebeurtenisse wat die neiging het om permanente blyplek in ons tuiste te kry. Soms hang die herinneringe soos boeretroos in die lug – ja, die soet en die bitter, maar jy kies om te bly. Mettertyd sien jy hoe jou kinders groot word en kry jou huis karakter.  ’n Paar jaar later verlaat jou kroos die nes en sit jy steeds in ’n huis wat jou tuiste geword het.

As my hare eendag gryser word en die lagplooitjies om my oë verdiep, sal ek met ’n kombers oor my skoot wil sit en my wysheid met my kleinkinders deel. Ek sal tee in my kombuis maak en voetjie vir voetjie in my huis se gang wil skuifel met die wete dat jare se herinneringe geraam is en trots aan die mure hang. As ek eendag stadiger praat en minder kan hoor, sal ek die deur wil oopmaak en my tuisversorger met ope arms wil innooi. Gou genoeg sal sy agterkom dat elke kamer ’n hartskamer is en dat die huis en my tuiste uiteindelik een geword het.

Dit klink amper idillies, maar Helpende Hand se tuisversorgeropleiding mag dit dalk net ’n realiteit maak.

Hilde
Helpende Hand