Liewe Leser

Brief 9

Ek het in die Vrystaat grootgeword. My ouma Joy het tussen Humansdorp en Knysna gewoon, daarom het ons mekaar relatief min gesien. Alhoewel haar naam en my oupa Engels was, het sy gekies om met ons Afrikaans te praat. My oupa is vroeg oorlede, maar my ouma is ’n rukkie langer gespaar. 


As kind kan ek onthou dat sy altyd vir ons pakkies met die pos gestuur het. Haar briewe wat saam met die pakkies gekom het, was altyd in drukskrif; sy het selde kleinletters gebruik. 

Die pospakkie het altyd karakter gehad. Dit was dikwels saam met die brief in gekreukelde, herwinde bruin- of geskenkpapier toegedraai. Sy was ook nie skaam met die kleeflint nie en het seker gemaak dat die hele pakkie ordentlik toegeplak is. Om my ouma se geskenke oop te maak, was nie net ’n uitdaging nie maar ook ’n avontuur, want sy het nie etikette gebruik nie en ons name bewerig op elke geskenk geskryf, dus moes ons eers die naam soek voordat ons die geskenke kon uitdeel. 

Na haar dood was dit nie meer nodig om besoeke by die poskantoor af te lê nie en was ons landlyn ook buitensporig stil. Op Kersdae en verjaardae is die afwesigheid van die karakter in elke geskenk onmiskenbaar en verlang ons na die hoofletter-briewe wat op lyntjiespapier neergepen is. Uit haar geskenke is dit duidelik dat sy alles gegee het wat sy kon en dat dit uit liefde vir haar kleinkinders gegee is.

My ouma se geskenke het uitgestaan. Sy het haar merk gemaak, en sy het seker gemaak dat sy vir ons daar sal wees ongeag die afstand tussen ons. In ’n wêreld waar almal net vir ons geleen is en waar alles net tydelik mag wees, laat dit my wonder, liewe Leser: Watter merk is Helpende Hand tans besig om in ons lewens te maak? En wat sal gebeur as Helpende Hand net skielik verdwyn? Waarheen sal my briewe gaan en sal dit jou bereik? Of sal die ink saam met die koeverte vergeel en iewers tussen ander briewe lê wat nooit jou posbus sal haal nie? Sal daar steeds gemeenskapsontwikkeling onder die Afrikaner-gemeenskap plaasvind en sal daar genoeg hande wees om mekaar te dra? 

Miskien moet ons kyk waar ons ons merk in Helpende Hand kan maak en waar ons mekaar kan ondersteun. Om, soos my ouma, mekaar te verseker dat ons daar sal wees vir mekaar – ongeag hoe ver die moontlikheid van gemeenskapsontwikkeling in die Afrikaner-gemeenskap soms mag voel. 

Hilde 

Helpende Hand