LieweLeser

Brief 53

Ek het onlangs ’n anonieme plasing raakgelees wat sê dat die grootste veldbrand deur ’n enkele vuurhoutjie veroorsaak kan word. Ek het dadelik aan hoop begin dink en later ook stadig begin kou aan die filosoof Friedrich Nietzsche se woorde. Hy het geskryf: “Hoop is ‘n baie beter stimulant vir die lewe as blydskap.”

Interessant genoeg word Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers as die hoopdraers van die gemeenskap gesien. Soms onderskat ons die impak van hoop, juis omdat dit so maklik is om met voorvoegsels en agtervoegsels te verkleineer. Ons bou graag woorde soos wan-hoop, vals-hoop en hopeloosheid. Maatskaplike werkers kan hierby aanklank vind, want net soos hoop, word die impak en positiewe verskil wat hulle op die gemeenskap maak ook dikwels onderskat.

Uit ervaring sal ek erken dat dit op my donkerste dae baie maklik was om hoop klein te maak, omdat my uitdagings te groot gelyk het en dit was vir my makliker om my ongelukkighede en vrees te onderdruk en stil te bly toe ek eintlik moes praat. Ja, liewe Leser, die maklikste uitweg is nie noodwendig die beste uitweg nie … Soms vat dit baie wilskrag om die stilte te verbreek wanneer ons op ons kwesbaarste is, want wanneer ons ons uitdagings in stilte onderdruk, is die kanse goed dat die eensaamheid en wantroue soos klitsgras aan ons begin klou. 

Dit laat my dink aan ’n onlangse gesprek met ’n maatskaplike werker wat verduidelik het dat dit dikwels gebeur dat mense hul as die laaste opsie sal sien waar hulle eintlik die eerste opsie kon wees, want hulle is juis die mense wat vir ons ’n stem wil gee op die dae wat ons weerloos voel en sukkel om te praat. Soms sien ons die lig aan die einde van die donker tonnel raak en soms sit ons vas -min wetend dat ons kniediep in die modder staan en sukkel om vastrapplek te kry.   

Dit val my toe by dat maatskaplike werkers nie nét hoopdraers is nie maar ook fakkeldraers wat hul hande sal uitreik en mense uit die modder sal ophelp. Hoopdraers verlig die donker dae en maak dit moontlik om met nuwe perspektief na dinge te kyk en om weer vir die uitdagings kans te sien selfs al lyk die lewe hoe morsig. Ons sien kans daarvoor, want ons weet dat ons nie alleen is nie en dat lig en moed, net soos vure, bymekaar kan aansteek. Hoe mooi is dit nie om te weet dat daar hoopdraers is wat elke oggend kies om in die donker in te gaan en bereid is om ons te wys hoe om self uit die modder te klim deur mekaar se hande te vat en spore in die tonnel agter te los nie.  

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5