Liewe Leser

Brief 54

Ek het in die Vrystaat op ’n klein dorpie groot geword. Wanneer die lang skoolvakansies aanbreek, het ons vir my grootouers op die plaas gaan kuier. Ons moes ver reis en as kind het ek altyd opgesien teen die langpad se stilsit, want daar was net voor in die kar lugversorgers en ’n mens kan net vir so lank deur die venster na die wolke kyk en prentjies maak.

 Soos wat ek ouer geword het, het ek die pad begin waardeer, en selfs al het ek ’n slimfoon besit, was ek met tye baie dankbaar om kol-kol nie sein te hê nie. Dit was vir my mooi om te sien hoe die plantegroei deur die loop van die reis stelselmatig verander: koppies word berge, en Karoo-bossies word fynbos. Tuisgemaakte padkos en koffie uit die fles was ook ’n groot bederf. Smiddae het ons na opgeneemde Tolla van der Merwe-grappies op ’n kasset geluister en alhoewel ons die grappies al van te vore gehoor het, het ons gesin saamgelag asof dit die eerste keer was.

Dit val my toe by dat die vakansie nie noodwendig op die plaas afgeskop het nie maar eerder op die oomblik toe ons die dorp tydelik gegroet en die langpad saam as ’n gesin aangedurf het. Dikwels is die reis net so belangrik soos die eindbestemming. Wat ons lewensreis aanbetref gebeur dit dikwels dat uitdagings soos koppies in berge kan verander en ons wonder ook soms of ons gebede sein nodig het tussen hier en die hemel. Tuisgemaakte kos gaan hand aan hand met liefde -hoe mooi is dit nie om saam met jou geliefdes oor en oor te lag nie.

C.J. Langenhoven het gesê: “As die langpad maklik was, sou die kortpad daar geloop het.” Mag ons ook so na ons lewensreis begin kyk.   

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5