#LieweLeser

Sarah Elkins verduidelik in haar boek, Your Stories Don’t Define You. How You Tell Them Will. dat die stories wat jy vertel ‘n groot invloed het op hoe jyself en ander jou waarneem sien, daarom is dit belangrik om selektief te wees oor watter stories jy deel en hoe jy dit deel.

Een van die grootste lesse wat ek hierdie jaar geleer het is dat die onvoltooide hoofstukke ‘n groot invloed op die leë hoofstukke van jou storie kan hê en dat dié mense wat reeds jou storie ken, nooit alles sal weet nie.

Mense maak aannames op grond van dit wat hul hoor, maar vergeet dikwels dat selfs ‘n kinderspeletjie soos telefoontjie een van die gevaarlikste speletjies kan wees. Wat weet jy nou eintlik van iemand se storie as dit nie jou storie is nie en wat baat jy daarby as jy ‘n halwe storie oorvertel?

C.J. Langenhoven het geskryf: “As jy met die onkunde van ‘n ander spot, is jou kennis nie so uitgebreid dat jy jou eie onkunde besef nie.”

Jy hoef nie skaam te wees vir jou storie nie, want ons almal skryf ‘n boek. Jy as skrywer het die reg om te kies wie toegang tot die voorwoord van jou storie mag hê en wie die voorreg het om die boek klaar te lees.

Om vrede met die verlede te maak, gee vir jou die geleentheid om vorentoe te beweeg. Sluit jou hoofstukke af en kies jou lesers selektief.

Nie almal hoef alles van jou te weet nie. Soms is dit nodig om te weet wanneer jy eendag die voorreg sal hê om na iemand se storie te luister, sal dit nie jóú storie wees om oor te vertel nie.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5