Liewe Leser
Brief 25
Ek het ’n groot waardering vir ons Afrikanergeskiedenis, daarom gryp ek graag die
geleentheid aan om besoek af te lê by monumente en geskiedkundige geboue in my
omgewing. Op die vooraand van Vrouemaand dink ek gereeld aan my eerste besoek
aan die Vrouemonument in Bloemfontein en die optog van nagenoeg 5 000
Afrikanervroue wat 65 000 vroue vanoor die hele land in 1915 by die Uniegebou
verteenwoordig het. Ja, liewe Leser, op 4 Augustus 1915 het vrouens hulle stem
saam dik gemaak en vir generaal De Wet en die ander Rebellie-gevangenes se
vryheid baklei deur saam te staan.
Dit laat my wonder watter rol vroue vandag speel en of ons nog steeds dieselfde
waagmoed het as wat Hendrina Joubert, ook bekend as Vreeslose Drienie, gehad
het. Vandag sing ons oor Sarie Marais en ons hoor van Racheltjie de Beer. Ons
maak staat op Nonnie de la Rey se dagboeke en wonder oor die kaalvoetvroue wat
oor die Drakensberge moes loop. Met Sanna as ’n voorlaaier en Grietjie as ’n kanon,
sien ek in my geestesoog hoe ons vir noodkrete mik en met behulp van gebede altyd
tref.
Ons kyk ook na die vrou wat met saad in haar hande sit. Goue koringlande bring
nuwe hoop en vir beloof haar man nuwe seisoene. Liewe Leser, sê my, wat sou ons
boervroue sonder geloof doen?
Dís vrouehande wat uitdagings vasvat, geleenthede raakvat en oplossings saamvat.
Ter wille van ons kinders sal ons versorg en besorg. Ons is meer as net vrouens:
Wanneer een val, val ons saam op ons knieë. Ons is asters en hoekstene. Ons is
sag, maar ook trots. Ons hét al gewen, en ons sal weer.
Hilde
Helpende Hand