Liewe Leser

Wanneer ons uitdagings en verantwoordelikhede opstapel, is die kanse goed dat die lewe swaar en negatief voel – amper soos ‘n doolhof sonder ‘n uitweg of ‘n wolk sonder ‘n  silwerrand. Dis in hierdie oomblikke wat die versoeking en behoefte om weg te vlug van die seer, verantwoordelikhede en gedagtes buitengewoon groot is.

Tydens hierdie uitdagings gee Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, Hannes Noëth, se woorde vertroosting: “Dit is moeilik om te begin bou, maklik om op te hou bou en edel om aan te hou bou.”

Soms hou ons op bou, omdat dit makliker is. Ons vlug, want die weivelde lyk altyd groener aan die anderkant van die draad. Uit ervaring weet ek dat die maklikste uitweg nie die beste uitweg is nie en as ons van ons probleme probeer weghardloop, sal dit steeds saam met ons reis.

Ware oplossings lê nie in vlug nie, maar eerder in konfrontasie. Dit verg moed om jou uitdagings in die oë te kyk, seer te verwerk en weer op te staan en te bou. Soms is die beste uitweg nie noodwendig om te vlug nie, maar eerder om edel op te tree en aan te hou bou. Ons bou om te bly en ja, liewe Leser, ons bly sodat ons kan bou.  

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5