Liewe Leser

Brief 46

Uit ervaring weet ek dat dit jou absoluut niks help as jy van jou uitdagings af probeer weghardloop nie. Selfs al help dit vir ’n rukkie, bly die uitdaging steeds by jou spook, want jy weet dit sal vir jou wag om opgelos te word.

Afgesien hiervan dink ek dis normaal om soms die behoefte te hê om net weg te gaan as die lewe se gejaag te veel raak. Waar “weg” nou eintlik is, sal ons nie weet nie, maar as die behoefte om weg te breek groot is, sal ons altyd bereid wees om uit te vind …

Sommige breek weg deur ’n paar dae in die natuur te spandeer; ander verruil weer hulle stad vir ’n ander stad. Ironies genoeg breek ons soms weg deur net by die huis te bly en ons vir ’n rukkie af te sonder van die mense wat ons daagliks sien. Ons breek weg sodat ons ons “wil” kan vind. Ons “wil” die uitdagings oplos, maar soms weet ons net nie hoe nie. Wanneer ons nie “wil” terugkeer nie, is die kanse goed dat jy jou “weg” gekry het en gereed is om die lewe se uitdagings in die gesig te staar, want waar daar ’n wil is, is daar altyd ’n weg.

Ongeag hoe jou “weg” mag lyk, weet ons ook dat God die Weg en die Waarheid is. Hoe mooi is dit nie om so daarna te kyk wanneer ons weer die behoefte het om weg te breek nie. Hoe gerusstellend is dit nie om te weet dat ons altyd by God vrede kan vind wanneer die lewe se geraas ons wil insluk nie.   

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5