Liewe Leser

Brief 47

Ek het ’n vriend gehad saam met wie ek gereeld by sy ouma en oupa gaan kuier het. As gevolg van moeilike omstandighede het sy grootouers hom grootgemaak, dus het hy baie tyd in hulle huis en tuin deurgebring. So streng soos wat sy grootouers was, het hulle hom as hul eie opgepas en ondersteun waar hulle kon. Alhoewel sy lewe nie baie maklik was nie, het hy tog ’n sin vir humor ontwikkel en is dit net genade dat hy vandag weet hoe om uit sy maag uit te lag. Om poetse te bak en kanse te waag, was een van sy sterkpunte. 

Een van die herinneringe wat my nou nog bybly, is sy impulsiewe besluit om een somermiddag sy ouma ’n poets te bak. Hy het pampoenpitte uit sy oupa se tuin gaan haal en dit in sy ouma se blomtuin gaan plant sodat sy ouma dit elke oggend self kan water gee, met vakansie gaan, en dan na die meesterstuk in die tuin terugkeer.

“’n Mens moet net geduld hê,” was sy woorde aan my.

Ek het min van plante geweet, maar ek weet wanneer ’n pampoenplant eers begin groei, rank dit vinnig baie wyd. Sy ouma was natuurlik woedend, maar ek moet bieg en sê dit was vir my ’n baie mooi prentjie om die blomme so tussen die pampoenblare te sien -en natuurlik ook die breë glimlag op die gesig van hom wat uit ’n koue seisoen self moes leer groei, met sy grootouers se hulp.

Dit laat my dink …

Die lewe kan soms baie chaoties wees, maar dit is heeltemal moontlik om die mooi tussen die chaos te soek en lief te wees vir dit wat net tydelik vir ons geleen is. Mag ons plant met die doel om vreugde te kweek en die mooi weer in alles begin raaksien – selfs al lyk die seisoen hoe uitdagend.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5