Liewe Leser

Brief 49

Dit het my ‘n rukkie gevat om te besef dat die lewe jou régtig niks skuld nie –nie eens ’n verskoning nie …

Sowat ’n paar dae terug het ’n video my oog gevang. Daarin verduidelik ’n vrou dat ons almal dikwels omgee wat ander van ons dink en dat dit onnodig is, juis omdat daardie mense ’n prentjie van ons deur hulle oë wil skets. Mense wat jou in ’n negatiewe lig skets, doen dit op ’n manier wat hulle storie en wêreldbeskouing sal ondersteun. Ons almal speel dus net ’n rol in iemand se storie en soms is dit so dat ons die antagonis is. Dit pla ons, want ons weet wie ons is. Die feit dat dit ons pla, sê ook dat ons die goeie in onsself raaksien en dat ons die behoefte het dat ander dit ook in ons sien.

Die vraag is dus nie wat ander van jou sê nie, maar eerder waarom jy omgee wat hulle van jou dink.

Die vrou verduidelik verder dat ons ook mooi moet dink waarom ons verskonings soek by die mense wat ons seergemaak het. Ja, soms voel dit goed om by iemand te hoor dat jy reg was en dat hulle jou ’n verskoning skuld, maar is dit nodig? Is dit werklik nodig om ’n verskoning van iemand te ontvang wat jou breekpunt laat bereik het? En is dit al wat jou daarvan gaan weerhou om iemand te vergewe?

Soms moet ons mense ter wille van onsself vergewe, selfs al kry ons nooit die verskoning wat hulle aan ons verskuldig is nie. Jy doen dit vir jouself, sodat jy jouself kan vryspreek van dit wat jou seergemaak het. Dit bly ’n uitdaging, want daar sal altyd iemand wees wat praat. In Matteus staan daar egter dat ons tot sewentig maal sewe keer moet vergewe. Op die ou end vergewe ons nie omdat ons dit van onsself verwag nie, maar eerder omdat God dit van ons verwag.

Hilde

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5