Liewe Leser

Brief 28

Gedurende die pandemie het ek vir ‘n paar jaar in die Paarl gebly. Soms weet ons nie waarom ons is waar ons is nie, daarom soek en dink ons gereeld aan moontlike antwoorde vir dit waaroor ons wonder.

Met ‘n familie wat sowat duisend kilometer ver van my af gebly het, moes ek hierdie soektog op my eie aanpak en het ek probeer uitpluis waarom ek is waar ek tydelik geplant is. Op my reis het ek ‘n handjie vol mense ontmoet en heelwat plekke besoek. Mettertyd het ek opnuut ‘n onblusbare liefde vir Afrikaans en ons Afrikaner-geskiedenis gevind.

Binne twee jaar het ek my woordeskat aangepas en weer die suiwer Afrikaanse woorde begin gebruik wat my ouers my van kleins af geleer het. ‘n Kar se boot is ‘n kattebak en ‘n televisie-remote is ‘n afstandbeheerder. Prestick is wondergom en cellotape is kleeflint. Skotepetoors word met lof, as ‘n vorm van waardering, uitgeroep en o, gaats! druk verbasing of moeilikheid uit.

So verlore soos wat ek was, het ek die pad terug na my moedertaal met behulp van leesstof en monumente gevind. Gou genoeg het ek agtergekom hoeveel speelruimte en vryheid Afrikaans vir my gun. Cool, awesome en great is vervang met uitmuntend, verruklik en fantasties. Hoe wonderlik is dit nie om jouself weer in ‘n taal te vind wat jou aanvaar vir wie jy is nie. Sedertdien ondersteun ek graag plaaslike besighede, teaters, markte en feeste wat ‘n soortgelyke liefde en waardering vir Afrikaans het.

Een groot trek later en ek bevind my weer in die Noorde. Vandag is ek opnuut dankbaar vir die kulturele reis waarmee ek besig is. Afrikaans is ‘n lewendige taal en het mettertyd my erns geword. Ek wil dit beskerm en respekteer waar ek kan. En selfs al dwaal ek soms van die pad af, wéét ek met sekerheid dat my moedertaal altyd gereed sal staan om my weer met ope arms te verwelkom. Afrikaans sal net daar wees vir so lank soos wat ons dit toelaat om daar te wees. Dieselfde geld vir ons erfenis.

Hilde

Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5