#LieweLeser
Brief 64
Een van my gunstelingskrywers, Seth Godin, verduidelik in een van sy nuusbriewe dat Isaac Newton nie swaartekrag geskep het nie maar dit bloot net ontdek het. Godin verduidelik verder dat swaartekrag nog altyd daar was, maar die feit dat Isaac dit ondersoek het en daarvoor ’n naam gegee het, het gemaak dat hy ’n groot voetspoor in die wetenskaplike veld gelos het.
“Columbus het beslis nie Noord-Amerika ontdek nie, want voor sy tyd het daar reeds mense gewoon. Dieselfde beginsel geld vir atome,” verduidelik Godin verder. Sjokolade, pizza en musiek-genres is wel alles uitgevind en geskep. Godin verduidelik dat dit die nuutheid, kulturele insig en volharding was wat hierdie idees lewe gegee het.
Wetenskaplikes ontdek. Kunstenaars skep.
Uit Seth Godin se plasing kon ek aflei dat daar ten minste twee ooreenkomste tussen wetenskaplikes en kunstenaars is: beide is nuuskierig genoeg om te sien wat die wêreld het om te bied, en hulle gee dit wat hulle ontdek of skep ‘n naam. Die tweede ooreenkoms sluit aan by dit waarop ek wil fokus: Soms help dit om vir alles ’n naam te gee. Wanneer ons met uitdagings worstel en nie ’n naam daarvoor het nie, is dit moeilik om ons gevoelens in woorde om te skakel. ’n Naam gee identiteit – ook aan jou uitdagings. Soms help die regte naam om jou situasie beter te verstaan en te verduidelik.
Wetenskaplikes ontdek iets en gee dit ’n naam. Kunstenaars skep iets en gee dit ’n naam. En as ons nie ’n naam vir iets het nie, soek of skep ons ’n naam sodat dit wat ons pla vir ons kan sin maak.
Hilde
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5