#LieweLeser
Brief 67
In my lewe het ek al baie geworstel met die gedagte dat ek nie goed genoeg vir myself of vir ander mense is nie. Dis natuurlik ’n leuen wat jou dinge laat doen om aan jouself en aan die res van die wêreld te bewys dat daar wel iets waardevol in jou is.
’n Bekende entrepreneur, Steve Bartlett, het ’n paar jaar terug ’n onderhoud met ’n aktrise gehad. Hulle het hoofsaaklik oor haar uitdagings gesels en hoe sy elke uitdaging benader het. Nie lank nie of hulle kom by die wortel en oorsaak van al die uitdagings. Sy sê: “Ek het nie goed genoeg gevoel nie en ’n groot deel van my lewe gesoek na die dinge wat my kan laat voel dat ek wel goed genoeg is. In plaas daarvan om na dinge te soek wat my kan oorreed dat ek goed genoeg is, moes ek eerder na die redes gaan soek het wat my oortuig het dat ek nie goed genoeg is nie en daaraan gewerk het.” Hierdie stukkie van die onderhoud het my nuwe perspektief gegee.
Sedertdien reflekteer ek gereeld oor my onrealistiese verwagtinge en woorde wat my eens op ’n tyd oortuig het dat ek nie goed genoeg is nie. As jy die kern van die probleem kan opspoor, is die kanse goed dat jy dit kan verwerk en jou persepsie van jouself en ander verander. Wat laat jou dink dat jy nie goed genoeg is nie, liewe Leser?
Ek sluit my brief af deur my pa se woorde met jou te deel:
“Ek glo in jou. Jy kan! Jy moet net in jouself ook begin glo.”
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5