#LieweLeser

Ek het in 2017 op ‘n hoop liefdesbriewe afgekom wat my ouma diep in haar kas gebêre het. Na my ouma se afsterwe moes ons deur haar goed gaan. Dit was vir my nog altyd vreemd om deur iemand se goed te gaan, maar in hierdie geval was dit nodig en het ek met ‘n swaar hart na haar ligpunte in die lewe gekyk. Sy was geliefd en dié gedagte alleen bring vertroosting.

Die liefdesbriewe is deur my oupa geskryf. In daardie dae was selfone nog net ‘n gedagte en hulle moes die tyd afstaan om te gaan sit en hul gevoelens op blaardun papier neer te pen. Hulle het nie baie gehad nie, daarom moes hulle hul woorde versigtig kies en hul ink spaarsamig gebruik. Van die koeverte se inhoud is vyf blaaie dik wat my toe laat dink: hoe langer die brief, hoe groter die verlange.

Die afstand tussen my ouma en ons huis was sowat 1 200 km, daarom het my ouma op die poskantoor en haar landlyn staatgemaak. Dit was vir haar belangrik om deel van ons lewens te wees en sy was. As kind het ons gereeld handgeskrewe briewe in die posbus ontvang en soms was dit nodig om ’n bruin pakkie by die poskantoor te gaan afhaal. 

Sy het haar woorde op lyntjiespapier neergepen en geskryf soos wat sy praat. Reguit en op die man af. Alles in hoofletters. Deur die jare kon ons aan haar handskrif sien dat sy ouer word. Haar sterk hoofletters was later bewerig. Nogtans het sy aanhou skryf en aanhou bel. 

Ek het my ouma se briewe in die blikkie gelos waar ek dit gekry het, want haar briewe het ‘n plek. Vandag staan daar ‘n boks diep in my kas en bewaar ek die briewe wat ek ontvang soos goud, want eendag sal dit al wees wat mense van my sak oorhê. Al ontwikkel tegnologie ook so vinnig, dink ek nog steeds dat briewe ‘n plek in die lewe het.

Nou meer as ooit. 

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5