#LieweLeser
In my lewe moes ek al ‘n hele paar mense vergewe. Dis makliker gesê as gedaan, want selfs al voel ons dat mense dit nie verdien nie, weet ons ook dat God dit van ons verwag. Ons moet vergewe, want ons word vergewe. Ek moet bieg: Om mense te vergewe is een ding, maar om jouself te vergewe, is ‘n uitdaging op sy eie.
Ek het ’n rukkie terug ’n plasing gesien waar iemand die woord “vergifnis” met gif vergelyk. Daar staan: “Forgiveness” is “vergifnis” in Afrikaans. Jy kan kies of jy wil “vergewe” of “vergif”. Alhoewel dié skerp vergelyking veronderstel is om ’n grappie te wees en vir my en baie ander mense laat lag het, het dit my laat dink:
Hoe maak jy vrede met jou gif?
So toksies soos wat die lewe kan wees, weet ons ook dat ons almal met ‘n bietjie gif in ons sit. Klein of groot, gif bly gif.
Ek het hierdie gedagtes met ’n hele paar mense gedeel en die terugvoer wat ek daarop gekry het het die prentjie rakende vergifnis verbreed.
Iemand het teruggeskryf: “Net soos met vrede, kom vergifnis ook teen ‘n prys. En al is dit soms duur, is dit altyd ‘n winskoop, want die een wat vergewe kry altyd meer as wat dit hom/haar kos.”
Nog iemand verduidelik dat die woord “vergifnis” as ‘n daad gesien moet word, want leë woorde beteken niks nie.
Hoe maak ons vrede met ons gif?
Ek weet nie alles nie, maar ek weet dat ‘n daad soos vergifnis ons van ons gif kan vrymaak en dat ‘n geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie genoeg kan wees.
Klein botteltjie, groot gif.
Klein saadjie, groot geloof.
Hoe maak jy vrede met jou gif, liewe Leser?
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5
