#LieweLeser

’n Paar weke terug gesels ek met ’n mentor oor eerste indrukke. As iemand wat geneig is om met wantroue te worstel, vind mense my gewoonlik moeilik leesbaar en bly eerste indrukke vir my ’n uitdaging, want eerste indrukke is nie altyd reg nie en kan tot verkeerde gevolgtrekkings oor iemand lei.

Die gesprek loop in ’n rigting waar ons oor mense gesels wat net vir ons geleen is. In hierdie geval praat ons oor ’n leier en wat ek by hom geleer het. Soms is dit moeilik om afskeid te neem van ‘n leier wat potensiaal in jou raakgesien het. Leiers is rigtingaanwysers en alhoewel ek al baie leiers gevolg het, het hierdie een vir my uitgestaan.

Ek verduidelik aan my mentor dat dié leier die enigste leier was wat nie vir my om verskoning gevra het oor sy indruk van my nie maar eerder erken het dat sy eerste gevolgtrekking oor my verkeerd was.

Alhoewel dit soms moeilik is om die moed bymekaar te skraap om iemand om verskoning te vra, vra ons soms ook te maklik verskoning sonder dat ons weet waarvoor ons om verskoning vra. Om vir iemand erkenning te gee, is heelwat makliker as om te erken dat ons verkeerd was.

Ironies genoeg het hy die regte woorde gebruik deur my daarop te wys dat hy nie altyd reg is nie en dat leiers ook oordeelsfoute kan maak. Ek het baie by hom geleer, maar die grootste les wat ek by hom geleer het, was om versigtig te wees om na iemand met wantroue te kyk sonder om vir hom ’n regverdige kans te gee.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5