#LieweLeser

Ek is van kleins af geleer om suiwer Afrikaans te praat. In ons huis gebruik ons woorde soos “kattebak”, “afstandbeheerder”, “kleeflint” en “paneelkissie”.

Op skool het ek vinnig besef dat baie van my klasmaats nie dieselfde woordeskat gebruik nie. Soms het die kinders vir my woordeskat gelag en het dit my onseker van myself gemaak …

Min het ek geweet dat ek tussen die wegloopkinders van my moedertaal sit. In plaas van “kattebak”, praat die wegloopkinders eerder van ‘n kar se “boot”, ‘n afstandbeheerder is ‘n “remote”, kleeflint is “sellotape” en ‘n paneelkissie ‘n “cubbyhole”.

Ek het later aan die onsekerheid toegegee en by hulle ingeskakel. Meng woorde soos “cool”, “awsome”, “great” en “yes” met jou woordeskat en die wegloopkinders sal jou stelselmatig aanvaar. Jy is nou een van hulle, want jy praat ‘n taal wat hulle verstaan.

Snaaks genoeg het ek steeds die taal in my huis respekteer en aanhou verwys na die “kattebak” en “paneelkissie”. Ek het so gepraat, want dis hoe my ouers my geleer het. Ek het so gepraat, want dis die taal waarmee ek grootgeword het.

So verlore soos wat ek was, het ek die pad terug na my Moedertaal deur Afrikaanse leesstof en ons monumente gevind. Gou genoeg het ek agtergekom hoeveel speelruimte en vryheid Afrikaans vir my gun. “Cool”, “aswome” en “great” is vervang met “uitmuntend”, “verruklik” en “fantasties”. As iemand wat ook ‘n wegloopkind was, vind ek weer myself in ‘n taal wat my aanvaar vir wie ek is.

Ek moet bieg: Soms dwaal ek steeds van die pad af. Ongeag hiervan los dit my met die wete dat my moedertaal altyd gereed sal staan om my weer met ope arms te verwelkom.

Volgens Afrikaans.com is daar ongeveer 7 miljoen Afrikaanssprekendes in die land.

Interessant genoeg word daar ook genoem dat Afrikaans die enigste taal ter wêreld is wat met monumente vereer is. Behalwe dat ons Afrikaans moet respekteer omdat dit ‘n groot deel van ons erfenis dra, dink ek ook dat dit ‘n veelsydige taal is.

Afrikaans sal net daar wees vir so lank as wat ons dit toelaat om daar te wees. Dieselfde geld vir ons erfenis. Afrikaans is sag, maar dit dra ook trots.

Afrikaans is.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5