#Liewe Leser
My ouerhuis is stapafstand vanaf die kerk waarin ek as kind saam met my gesin kerkdienste bygewoon het. Sondae het dus vroeg begin met ‘n kerkklok wat klokslag om agtuur en weer halfnege langs my kamervenster gebeier het.
Omdat ek gesteld is op roetine en tradisies, was dít die klank wat altyd ‘n oorheersende vrede oor my Sondae gebring het. Na kerk was dit tee tyd en na tee tyd, het daar klassieke musiek oor die draadloos gespeel terwyl my pa die koerant met altwee hande voor hom gehou en gelees het.
Dié musiek en leesstof is nie my persoonlike voorkeur nie, maar in ons huis was dit tradisie en dit was vir my mooi om te sien dat my ouers vir ‘n klein rukkie kon asemskep.
In my studentedae en as jong werkende moes ek ‘n paar keer verhuis. Tydens dié reis was die afwesigheid van Sondae se klokke gebeier en my teenwoordigheid in die kerk duidelik sigbaar. Koerante het op die winkelrakke gebly en die draadloos was af. Selfs die horlosie se tydgleuf vir teetyd is vervang. In my ouerhuis het die tradisie voortgeleef, maar in my woonstel het Sondae sy betekenis verloor, want in my oë was dit net nog ‘n dag. Dié nuwe gewoontes het ‘n groot onrustigheid in my binneste veroorsaak.
Een Sondagoggend het ek dou voor dag die Paarlberg uitgestap. Oudergewoonte het ek bo-op die berg gaan sit, die sonsopkoms met my foon afgeneem en boeretroos uit ‘n fles geniet. In die verte het ‘n kerkklok begin beier en die herinneringe aan die vrede waarmee ek grootgeword het oor my dag gebring. Ek het verlang na my ouerhuis wat rotsvas op vaste beginsels bly staan. Mettertyd het ek besluit om stadig terug te keer na ons tradisies deur kerkdienste by te woon.
Opvoeding begin by die huis, want dis waar kinders hul eerste lewenslesse en basiese waardes leer. Mag ons die impak daarvan nooit onderskat nie.
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5