#Liewe Leser

Ek het Juniemaand gaan besoek aflê by ‘n begrafplaas in die Oos-Kaap. Dit was netjies onderhou en omring met bloedrooi aalwyne. Van die grafte was net hope grond – geen naam of blom nie. ‘n Klein gedeelte van my het sonder hoop na die hope grond gekyk, want ek sou graag wou weet wie se storie daar begrawe is. Maar nie almal kan ‘n grafsteen bekostig nie.

Die afwesigheid van name laat my dink aan ‘n gesprek wat ek met ‘n vriend gehad het. Hy het vlugtig aan my genoem hoe sy planne en drome vorentoe lyk en dat dit vir hom belangrik is om ‘n verskil te maak sodat mense hom kan onthou wanneer hy nie meer hier is nie. Hy doen met ander woorde wat hy doen sodat hy met sekerheid weet dat hy nie vir niks gesterf het nie. Interessant genoeg het ek al baie soortgelyke gesprekke gehad en is dit nie die eerste persoon wat so voel nie. Ek dink gereeld aan die behoefte wat mense het om in hul afwesigheid deur ander mense onthou te word …

Dis in my geaardheid om amper alles ‘n naam te wil gee. Sommige name is onnodig en ander gee identiteit. In plaas daarvan om bekommerd te wees of ons onthou sal word of nie, moet ons dalk daaraan dink hoe iemand ons vandag gaan onthou. Hoe hanteer ek mense vandag? Wat kan ek vandag doen om iemand te help?

Watter verskil kan ek vandag maak om my erfenis en my nalatenskap te bewaar sodat ons kinders en hulle kinders weet waar hulle vandaan kom? Is dit belangrik om ons name neer te pen?

Ek kan aan baie antwoorde dink, maar die Vrouemonument som dit vir my goed op met die duisende name van vrouens en kinders wat daar neergepen is. Duisende lewensverhale (selfs al is dit hoe kort) wat saam in een boek hoort. Dis neergepen, want ons onthou. Dis daar, want ons wéét met sekerheid dat hul nie vir niks gesterf het nie.

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand

Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5