#Liewe Leser
Die jaar is op sy rug en ek het net een brief oor om vir jou in 2024 te skryf. Ek moes mooi dink oor wat ek gaan skryf en met watter woorde ek hierdie jaar wil afsluit.
In ‘n wêreld waar kommunikasie hoofsaaklik digitaal plaasvind, het die waarde van ‘n brief meer betekenis gekry. ‘n Brief is tasbaar en persoonlik. Dit vra vir tyd, begrip en aandag. ‘n Brief dra die gewig van emosie, gedagtes en waardevolle herinneringe. Dit bring daardie tikkie egtheid en tydloosheid terug.
‘n Brief het nie altyd ‘n koevert nodig om ‘n boodskap bymekaar te hou nie; soms ontvang ons dit op poskaarte, servette of geskenketikette. Dis sentimenteel, want dis met die hand neergepen. Wanneer laas het jy jou pen opgetel en ‘n brief geskryf, liewe Leser?
As ek een liedjie saam met hierdie brief vir jou kan stuur, sal dit ‘n uittreksel wees uit Gian Groen se”Vier Seisoene Kind”:
Vier seisoene kind met die liefde in jou palm
Kyk jou oseaan is kalm
Vier seisoene kind
Vier seisoene kind
Stuur my nog ‘n poskaart met die wind
Mag jy ‘n vreedsame feesseisoen ervaar met die wete dat daar steeds hoop is.
Dankie dat jy gelees het en dankie dat ek vir jou kon skryf. Ek sien uit na die avonture wat ons volgende jaar saam gaan aanpak en waar ek weer met hart, in krag, tot hoop vir jou ‘n brief in die posbus kan los.
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5