Liewe Leser

Brief 13

Vandag vou ek ‘n papier-vliegtuig van my brief met die hoop dat die wind dit sal vang. Onthou jy nog, liewe Leser, om papier te vou en vir jou brief vlerke te gee?

Van kindsbeen af is ek geleer om op die uitkyk te wees vir voertuie. My ander ouma, Ouma Kruger, het in Gauteng gewoon. Voor haar huis was ‘n oop veld en ‘n klein stroompie. Hier en daar was daar wilgerbome wat talle voëltjies gehuisves het. Aan die anderkant van die veld was daar ‘n treinspoor. In my ouma se jonger dae het sy gereeld van ‘n trein as vervoermiddel gebruik gemaak en dit het haar vrou-alleen veilig van punt- A na punt- B geneem. Vandag werk dinge ‘n bietjie anders.

Wanneer ons vir haar gaan kuier het, kon ons dikwels laatmiddae sien hoe ‘n trein getrou verby haar huis ry. In haar huis het ons altyd ‘n groot geleentheid van dié kortstondige oomblik gemaak: Ons het alles gelos, kaalvoet buitentoe gehardloop en vir mense in die trein gewaai. Later het sy ons ook geleer om op die uitkyk te wees vir vliegtuie en met altwee hande hoog in die lug te waai wanneer ons een sou sien. Hierdie tradisie het lank aangehou, miskien omdat ek gehoop het dat iemand my sou raaksien en dan terug sou waai.

Alhoewel my ouma nie meer met ons is nie, moet ek bieg dat ek nooit die gewoonte afgeleer het nie. Ek lig my hande vandag steeds denkbeeldig in die lug in op om vir ‘n vliegtuig te waai – selfs al weet ek dat die moontlikheid skraal is dat die passasiers my sal sien.

Dit het my ‘n rukkie gevat, maar vandag besef ek dat my ouma se speletjie van toepassing op die lewe ook kan wees. Soms voel ons te klein om raakgesien te word, daarom waai ons met die hoop dat ons iemand se aandag sal trek. In vandag se wêreld gebeur dit dikwels dat ons uitreik, maar niemand sien ons raak nie. Ons praat, maar niemand luister nie. Later laat dit ons moedeloos en alleen voel en begin ons ons waarde bevraagteken.  

Wat ons dikwels vergeet is dat ons ook geneig is om dinge mis te kyk en mense se belangstelling in ons te onderskat. Dalk word ons raakgesien, maar ons fokus op die mense en organisasies wat ons nie raaksien nie. Miskien moet ons ‘n bietjie mooier kyk wie ons raaksien en wie kies om hul arms in die lug in op te gooi om vir ons te waai. Sal ons hulle raaksien en bereid wees om terug te waai?
 
Hilde
#HelpendeHand