#LieweLeser

C.J. Langenhoven het geskryf: “Aan elke silwerrandjie is daar ‘n wolk.” Dis duidelik dat hy ‘n bietjie anders na die lewe gekyk het as die meeste van ons. Selfs al het hierdie aanhaling ‘n negatiewe ondertoon, laat dit my dink aan die belangrikheid van mentors en waarom dit soms nodig is om iemand as klankbord te gebruik.

Soms sit ons met uitdagings wat dit vir ons moeilik maak om vanuit ‘n ander hoekpunt na die lewe te kyk. As iemand bereid is om tyd af te staan en hul gedagtes met jou deel, kan dit jou help om self aan oplossings vir sekere uitdagings te dink en dit teen mekaar op te weeg. ‘n Mentor is nie noodwendig daar om vir jou te wys waarheen om te gaan nie, maar om hul wysheid en ervarings met jou te deel sodat jy kan besluit watter rigting vir jou gaan werk. Soms plaas hulle sagte druk op jou om jou uit jou gemaksone te stoot, juis omdat struikelblokke deel is van die reis. ‘n Goeie mentor sien potensiaal in jou, selfs op die dae wanneer jy dit nie self kan raaksien nie.

Dis die mense wat as die silwer rand tydens die donkerste oomblikke in jou lewe gesien kan word. Dit is die mense wat hoop bring en ons daaraan herinner dat storms net tydelik is. Donker wolke bring reën sodat ons kan groei. Dis die uitdagings wat ons sterker maak en ons voorberei op die Lig wat weer sal verskyn.

Dis selde dat ek met Langenhoven verskil, maar ‘n mentor het lank gelede vir my gesê dat dit nodig is om vir jouself ook te kan dink. Selfs al is Langenhoven se aanhaling reg, kies ek om andersom daarna te kyk: Aan elke donker wolk is daar ‘n silwerrandjie. En dit gee vir my hoop!

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5